Poeziecentrum

Wij werken momenteel haastig aan de mobiele versie van onze vernieuwde website!
U kan de oude website nog raadplegen voor verdere informatie,
of u kan hem bekijken op uw desktop.

Poeziecentrum

De Ernst van Heerden Collectie: ontstaan en context

Danksy die inisiatief en harde werk van ʼn klomp Afrikaanse akademici asook van Vlaamse belangstellendes in die Afrikaanse taal is prof. Ernst van Heerden, Afrikaanse digter en akademikus, se uitgebreide poësieversameling nou die grootste Afrikaanse poësieversameling in die Nederlandse taalgebied. Die Ernst van Heerden-versameling van Afrikaanse poësie bevat tans [April 2020] bykans 1 600 Afrikaanse bundels, bloemlesings en kritiese werke, en dit word gereeld aangevul met nuwe gepubliseerde bundels.

Hierdie versameling is op 27 November 1998 in Gent, Vlaandere, amptelik tydens ʼn geselligheid in ʼn historiese gebou op die Vrijdagmark aan die Poëziecentrum oorgedra. En op 18 Oktober 2018 is die 20ste bestaansjaar van hierdie versameling ook in dieselfde gebou – waarheen die Centrum sedertdien verskuif het – gevier. 

Dié versameling is aanvanklik deur Van Heerden aan die Suid-Afrikaanse digter, dr. Lucas Malan, nagelaat, maar dr. Malan het dit goedgunstiglik geskenk vir opname in die Poëziecentrum (wat die grootste en mees geraadpleegde Nederlandstalige poësieversameling in die Nederlandse taalgebied is). Toe prof. Van Heerden voor sy dood in September 1997 gepols is oor die moontlikheid om sy poësie-versameling te laat opneem in die Poëziecentrum in hierdie kultuurryke Belgiese stad was hy heel inskiklik aangesien hy sy doktorale studie aan die Universiteit Gent gedoen het.

Die Poëziecentrum het in 1980 tot stand gekom as 'n dokumentasie-, inligting-, en studiesentrum vir Nederlandstalige poësie en buitelandse poësie wat in Nederlands vertaal is. Die byvoeging van die Afrikaanse poësieversameling dien aan die een kant as groot stimulus vir vergelykende letterkundestudies. Aan die ander kant help dit om ʼn groter bewuswording van die Afrikaanse poësie in die besonder en die Afrikaanse taal in die algemeen in die Lae Lande te skep.

Die personeel van die Poëziecentrum stel die versameling via ʼn uitstalling en toegang tot die bronne beskikbaar vir gebruik deur belangstellendes in die Afrikaanse poësie. Die Nederlandse digter Gerrit Komrij, wat ʼn uitgebreide bloemlesing Afrikaanse poësie saamgestel het, het byvoorbeeld ook gebruik gemaak van die Afrikaanse bronne in die Poëziecentrum om ʼn nuwe bundel oor Afrikaanse poësie vir die Nederlandse taalgebied saam te stel.

Die hoop is destyds uitgespreek dat deur die maklike beskikbaarheid van hierdie versameling die Afrikaanse letterkunde moontlik ʼn plek sal vind in Nederlandse literatuurgeskiedenisse – ʼn plek wat dit al geruime tyd verdien. Sedertdien het die Centrum hierdie funksie uitstekend vervul en in hierdie proses het die versameling sy plek in die studie van die Afrikaanse en Nederlandse literatuur ingeneem. Talle studente, en ook navorsers, besoek die Centrum om daar te werk aan hulle studie van die Afrikaanse letterkunde.

Die idee vir die hele projek het ontstaan in Junie 1997 tydens ʼn besoek aan die Poëziecentrum deur Suid-Afrikaanse deelnemers aan die Nederlandse Taalunie (NTU) se tweejaarlikse Gent/ Boswell-projek. In terme van hierdie projek (1995-1998) is groepe Suid-Afrikaanse akademici en onderwysers die geleentheid gebied om opknappingskursusse in die Nederlandse en Vlaamse taal en kultuur by te woon in sowel Gent, Vlaandere asook Utrecht, Nederland nadat die kulturele en akademiese boikot teen Suid-Afrika opgehef is. Hierdie besoeke het die Suid-Afrikaanse akademici die geleentheid gebied om weer die wêreld van die Neerlandistiek te betree ná ʼn lang tyd van isolasie in die 1970’s en 1980’s. Vandag word hierdie projek deur Suid-Afrikaanse akademici beskou as ʼn deurbraakstap wat gehelp het om brûe van verpligte isolasie te oorkom.

Die Suid-Afrikaanse digter dr. Johann Lodewyk Marais het tydens die besoek in Junie 1997 die behoefte aan ʼn versameling Afrikaanse poësie op die Nederlandse taalgebied eksplisiet uitgespreek. Die Poëziecentrum het toe by monde van mnr. Willy Tibergien, die destydse direkteur van die Centrum, te kenne gegee dat hulle graag so ʼn versameling in hulle eie versameling sou wou opneem as dit beskikbaar sou wees. Ná mnr. Tibergien se aftrede het sy opvolger, dr. Carl de Strycker, die versameling entoesiasties bly steun.

Deur die samewerking van 'n klompie Suid-Afrikaanse digters en universiteitsdosente, onder andere Marais self, prof. Wannie Carstens, voormalige professor in Afrikaanse taalkunde aan die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit (die voormalige PU vir CHO), mnr. Anton Basson, vroeër dosent in Afrikaanse letterkunde aan die Vista-Universiteit, en die Neerlandikus prof. Dorothea van Zyl van die Universiteit van Stellenbosch, het die idee uiteindelik prakties vrugte afgewerp toe die Ernst van Heerden-versameling amptelik in November 1998 in die Centrum se versameling opgeneem is. Mnr. Basson se ouers het vir etlike maande die versameling in hulle Randburgse huis gestoor en dit ook uiteindelik help verpak vir versending na Gent.

Die kontak- en skakelwerk in Vlaandere is gedoen deur welwillende taal- en kultuurinstansies soos De Orde van de Princen en die Gentse tak van die Marnixring. Mev. Marleen Couteur, ʼn voormalige dosent in die Talencentrum aan die Universiteit van Gent, was die Gentse skakelpersoon en sy het baie daartoe bygedra om organisatoriese drade aan mekaar te knoop.

Die PUK-Kanselierstrust van die Noordwes-Universiteit (PU vir CHO) het finansiële steun verskaf om die vervoer van die versameling asook gereelde aanvulling van die versameling moontlik te maak. Prof. Dorothea van Zyl het met die hulp van lede van die bestuur van die Algemeen Nederlands Verbond (ANV) in Kaapstad dit bemiddel dat die versameling na Gent geneem kon word. Die vervoermaatskappy Grindrod het teen ʼn verminderde tarief die versameling per lugvrag na Brussel gebring vanwaar dit deur personeel van die Poëziecentrum na Gent vervoer is.

Die versameling bevat baie bundels wat mededigters aan Van Heerden geskenk het met handtekeninge en handgeskrewe opdragte voor in. Van dié werke is eerste drukke. Die versameling is uiters omvangryk en beslaan byna die hele Afrikaanse poësiegeskiedenis. Bundels van onder andere Boerneef, Eitemal, Peter Blum, D.J. Opperman, W.E.G. Louw, T.T. Cloete, I.D. du Plessis, Ingrid Jonker, Breyten Breytenbach, Elisabeth Eybers, N.P. van Wyk Louw, Van Heerden self, Antjie Krog, Peter Snyders, Adam Small, Daniel Hugo en talle ander is opgeneem en kan nou met relatief min moeite op die Vlaamse en Nederlandse taalgebied gelees word.

In die destydse verpakkingsproses is afgekom op talle resensies en besprekings van digbundels en dit is deur Anton Basson opgeneem in ʼn plakboek wat saam met die versameling versend is. Sedertdien word op ʼn vaste basis resensies oor poësiebundels aangestuur na die sentrum ten einde meer inligting oor bundels aan die publiek beskikbaar te stel. Enkele jare gelede is ʼn aantal literêre Afrikaanse tydskrifte ook aan die Centrum gestuur ter aanvulling van wat reeds daar beskikbaar was.  Hierdeur word die versameling ontsluit vir potensiële lesers.

Prof. Carstens het sedert 1998 op ʼn gereelde basis die versameling bly aanvul met aankope van nuwe bundels en die versending daarvan na die Centrum. Personeel van NALN (die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum wat in Bloemfontein gevestig is) het in hierdie tyd lyste verskaf van nuwe bundels op grond waarvan bundels aangekoop is.

Hierdie taak is sedert 2006 oorgeneem deur mnr. Louis Esterhuizen, toenmalige bestuurder van die tak van Protea-boekwinkel op Stellenbosch en self ʼn erkende digter. Hy het die versameling met die hulp van personeel van die Poëziecentrum gekontroleer en dit daarna so volledig as wat prakties moontlik is op datum gebring. Mnr. Esterhuizen het teen 2014 afgetree en die versamel en versending van die bundels is hierna oorgeneem deur die tak van Protea in Pretoria.

Uitgewers soos Protea-Boekhuis (in die besonder die hoof dr. Nicol Stassen) en NB Uitgewers (danksy mnr. Kerneels Breytenbach wat destyds uitgewersbestuurder was) het bundels beskikbaar gestel vir hierdie versameling. Protea gee naamlik ʼn gratis kopie van elke nuwe bundel aan die sentrum en NB Uitgewers het dit teen kosprys verskaf. Naledi verskaf sedert 2019 ook bundels kosteloos aan die Centrum. Dus: samewerking oor ʼn breë front in die belang van die Afrikaanse poësie.

Vir bykans 20 jaar was Die PUK-Kanselierstrust die primêre borg wat die aanvul en instandhouding van die versameling moontlik gemaak het. Hierdie taak sal in die toekoms deur die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) oorgeneem word.  

Die vestiging van hierdie versameling in die buiteland kan beskou word as een van die grootste prestasies van die Nederlandse Taalunie se projek om die Neerlandistiek in Suid-Afrika uit te bou. In hierdie geval was dit net die omgekeerde, want Afrikaans is via die versameling in die Poëziecentrum ook uitgevoer na die Lae Lande. Sodoende word sowel die Neerlandistiek as Afrikaans bevorder.

Prof. Carstens het tot einde 2017 as koördineerder van die projek aan Suid-Afrikaanse kant opgetree en hierdie taak is ná sy aftrede oorgeneem deur proff. Phil van Schalkwyk en Adri Breed van die vakgroep Afrikaans en Nederlands van die Noordwes-Universiteit.

Die samewerking en steun van Stefaan Goossens van die Centrum het oor jare ʼn groot rol gespeel om die versameling in stand te hou, uit te bou en te vertoon met die hulp van steun uit Suid-Afrika. Danksy hom het die versameling ʼn prominente plek in die Centrum ingeneem en in hierdie proses het dit ʼn belangrike ruimte vir die studie van die Afrikaanse poësie ingeneem. Afrikaanse poësie is hom groot dank verskuldig vir hierdie onbaatsugtige liefdeswerk. 

Skenkings van Afrikaanse letterkundiges, soos van die digter prof. Fanie Olivier en die skrywer dr. Cecile Cilliers, het mettertyd ook daartoe bygedra dat daar sedert 2018 ook ʼn aanvullende poësieversameling by die Universiteit Gent tot stand gekom het. Saam met die Ernst van Heerden-versameling van Afrikaanse poësie dien dit om die studie van die Afrikaanse poësie beduidend te vergemaklik.

Prof. Wannie Carstens, voormalige Direkteur van die Skool vir Tale, Potchefstroomkampus, Noordwes-Universiteit POTCHEFSTROOM, Suid-Afrika.

 

07/04/2020