Poeziecentrum

Wij werken momenteel haastig aan de mobiele versie van onze vernieuwde website!
U kan de oude website nog raadplegen voor verdere informatie,
of u kan hem bekijken op uw desktop.

Poeziecentrum

Daniel Hugo

Daniel Hugo
Poëziecentrum

Daniel Hugo over schrijversbibliotheken

Daniel Hugo is een Zuid-Afrikaanse dichter, vertaler en is ook actief in de media-sector. Hij vertaalde onder meer al poëzie van Herman de Coninck, Gerrit Komrij, Marc Tritsmans en Rutger Kopland naar het Afrikaans. 

In deze column schrijft Daniel Hugo over het lot dat schrijversbibliotheken dezer dagen te beurt valt.

Skrywers se stoflike oorskot neem dikwels die vorm aan van ongewenste boekerye.

Tweedehandseboekwinkels is deesdae die grootste bewaarders van daardie kulktuurskatte uit die Afrikaanse literatuur. Omdat daar geen instansies bestaan wat belangstel in skrywers en literatore se nagelate boekversamelings nie, word dit soos herfsblare in ’n stormwind oor die lengte en breedte van die land versprei.

Ek het al boeke van J.C. Kannemeyer, D.J. Opperman, Merwe Scholtz, George Weideman en talle ander teëgekom in stowwerige winkels op die platteland en in stede. Onlangs het ek in die Taalmonument se boekwinkel in die Paarl afgekom op my oud-kollega van die Universiteit van die Vrystaat, André Viviers, se boeke – hoofsaaklik digbundels en dramatekste. Vir die weggee-prys (of is dit ’n weggooi-prys?) van R3 stuk kon ek byvoorbeeld die byna onverkrygbare eerste uitgawes van Boerneef se bundels Palissandryne en Op die flottina aanskaf. Enersyds laat dié vondse my juig, andersyds huil ek in my bestofde hande oor die geringskatting van hierdie skatte.

En dan praat ek nie eens oor S.J. du Toit se Afrikaans ons volkstaal wat in 1891 deur D.F. du Toit & Co. In die Paarl uitgegee is nie. Dit het ek vir R5 by daardie einste monumentwinkel gekry. Volgens ’n inskripsie voorin het die boek behoort aan Jakobus Petrus Theron (1816-1897) wat dit nagelaat het aan C.P. de Leeuw Theron (1856-1945). Op die titelblad staan onder die outeur se naam in (waarskynlik sy eie) handskrif: “Van den Schryver”. ’n Eksemplaar van dieselfde boek word in ’n glaskas uitgestal in die Taalmuseum in Pastoriestraat.

My vrou koop gereeld boeke aan via die internet en dit is hoedat ’n eksemplaar van Wilhelm Knobel (1935-1974) se Mure van mos by ons op Prins Albert beland het. Hierdie briljante man en begaafde digter se boekery is deur sy jonger broer, die bekende patoloog prof. Deon Knobel, bewaar. Ná Deon se dood in 2019 het dié boeke ook die weg van alle ou, bedrukte papier gegaan, naamlik na die muwwe mausoleums van tweedehandseboekwinkels.

Toe ek deur die bundel blaai, kom ek af op potloodaantekeninge in Wilhelm Knobel se handskrif. Dit behels onder meer die toevoeging van opdragte by sekere gedigte: Vir Ingrid; vir D.J.O.; vir my Moeder; vir oom Jaap en tannie Corrie. Die laasgenoemde opdrag staan by die gedig “Na ontvangs van ‘n mandjie vrugte uit die Vrystaat”. (Die Knobel-broers het in die Vrystaat grootgeword.) By ander gedigte is wysigings aangebring en setfoute verbeter. Hierdie marginalia is ’n onskatbare bron vir literatuurhistorici en teksnavorsers.

Dit lyk asof die enigste veilige hawe vir intakte boekversamelings deesdae in die Lae Lande te vinde is. Ernst van Heerden se poësieversameling het byvoorbeeld deur bemiddeling van sy literêre eksekuteur, die digter Lucas Malan, ’n tuiste gevind in die Poëziecentrum van Gent. Heelwat navorsers het al daarvan gebruik gemaak, soos prof. Yves T’Sjoen wat reeds ’n aantal artikels gepubliseer het oor Van Heerden se interessante en insiggewende aantekeninge in die bundels van onder andere Antjie Krog en Elisabeth Eybers. Dit werp ’n onmisbare lig op Van Heerden, die literator en resensent, se poëtikale opvattings. Dit gee boonop ’n boeiende blik op die akademikus as mens, op sy persoonlike voorkeure en vooroordele. Smulkos vir ’n biograaf.

Fanie Olivier se volledige versameling Suid-Afrikaanse literatuur (Afrikaans en Engels) is verlede jaar in die letterebiblioteek van die Universiteit Gent onthul. Dit sluit ook letterkundige tydskrifte in. ’n Onuitputlike en kosbare bron wat Suid-Afrika noodgedwonge moes verlaat. Hierdie versameling is onlangs aangevul met die nalatenskap van dr. Cecile Cilliers en omvat hoofsaaklik Afrikaanse digbundels.

In sy pessimistiese gedig oor die toekoms van Afrikaans – “Einde” uit die bundel Die grammatika van liefhê (1975) – skryf J.C. Steyn: “Êrens het ’n taal ’n geslote boekery geraak, ’n afgesluite hoofstuk.” In sy magistrale geskiedenis van Afrikaans as kultuurtaal, “Ons gaan ’n taal maak”: Afrikaans sedert die Patriot-jare (2014), is Steyn se slotwoorde en raad aan Afrikaanssprekendes is: “Skep ’n eie toekoms.” En daardie toekoms, so lyk dit, lê veral in die buiteland. Sekerlik wat privaat boekerye betref.


 

De Collectie Ernst van Heerden omvat momenteel meer dan 1500 volumes en wordt nog steeds aangevuld. De collectie kan geraadpleegd worden via de catalogus van Poëziecentrum. De catalogus is een werk in opbouw, dus nog niet alle items zijn terug te vinden. Momenteel zijn ongeveer 550 items van de Collectie Ernst van Heerden ontsloten.